40
Beste Grootneef
d
ie nuwe jaar waai nog vars na al die feesdae. Voorspoed
ou Neef, mag die reën elke week val waar dit nodig is.
Ou Neef, skelmgeit van owerstes is so oud soos die
mensdom. Toe die wonderboom nog ‘n potplant was,
het Oom Paul al kontrakte aan kennisse toegeken.
Maar desedae se blatante skelmgeit, kos ons ‘n arm en ‘n been.
Of jy ‘n polis of ‘n paaseier het, dit is nou minder werd as 365 dae
gelede. Met al die skelmstreke wat oopgevlek word, waai die waarde
van ons geldjies uit al wat ‘n spaarvark is.
Nog ‘n klitsgras in die kous, is elke Jan Rap en sy maat wat links
en regs met belastinggeld prosedeer. Die een
grênder
as die ander
op die trappe voor die hof. Maar soos Langenhoven gesê het: “As
jy iemand prosedeer vir jou baadjie, trek solank jou broek uit vir
die koste.” Want as die stof gaan lê na al die geleerde woorde, is
niemand beter daaraan toe nie.
De facto, in loco, corpus mentis
en
al daai, dis op die ou end net die advokate wat geld maak uit beusel-
agtighede wat dag na dag aan slapende regters opgedis word.
Só van boereverneukers gepraat: Geld bly maar ‘n ontevrede-
maker. Buurman vertel van die twee neefs wat al om die ander
naweek beurte gemaak het om perde te gaan speel. Kyk, daar is drie
maniere om geld te verloor: Boerdery (die maklikste), vroumense
(die lekkerste) en perde (die sekerste). Hoe die ook al sy, so het die
twee neefs Saterdag na Saterdag winste en verliese gedeel
afhangende van die perde se vlugvoetigheid. En dan op die
Maandagaand bymekaar gekom vir ‘n stywe dop en die uitruil van ‘n
rand of twee, om die volgende Saterdag weer
op die perde neer te sit.
Tot op die een mooi Saterdagmiddag. Toe
Neef Een wragtig die
pick six
reg het en die
R3 miljoen
jackpot
wen. Toe Neef Twee
soos gewoonlik op die Maandagaand vir die
gebruiklike dop en uitruil van rande opdaag,
was Neef Een lankal vort. Dié het eers na
sewe maande met ‘n nuwe kar en ‘n nuwe
vrou weer oë op die dorp gewys. En nie ‘n
druppel van die
pick six
met sy neef gedeel
nie. Die twee gesinne praat vandag nog nie
met mekaar nie.
Of soos ou Willem Bouer wat vir ‘n lewe bou-
en herstelwerk in die buurt gedoen het. Ook
by ‘n boer in die distrik. Met die finale af-
rekening word voorgestel dat Willem nie met
kontant betaal word nie, maar met twaalf
slagskape – vir ‘n jaar lank elke maand ‘n
slagskaap. Ou Willem se vleislus het oorge-
vat en met ‘n handskud vir die twaalf slag-
skape akkoord gegaan.
Die eerste drie maande het dit voor die wind gegaan. Klokslag
op die 30ste was ou Willem daar vir sy slagskaap. Op die vierde
maandeinde, skud die boer sy kop en beduie van skape wat oor-
nag gesteel is. Willem betuig sy opregte simpatie met die boer se
verlies en doen sommer navraag oor die welsyn van die troppie
skape wat in die kampie langs die stoor loop.
Nee, beduie die boer, daardie is sý skape. Dit is Willem se troppie
wat gesteel is! Ou Willem is sy skape-paaiement vandag nog
kwyt. En toe kom sit die broer Sondae ewe sedig in die kerkbank
langs ou Willem. Dit is toe dat Willem Bouer afgestig het.
Ou Neef, wat het pouvere, blombolle, vrotmelk en swart rooibokke
in gemeen? Die gulsigheid van die mensdom vir vinnige en groot
geld! Die eerstes wat inklim, maak gewoonlik ‘n geldjie en dan val
die bodem uit. Teen daardie tyd is die voorpraters lankal soek en so
ook die neseier wat met die skema sou uitbroei. ‘n Kat in die sak is
gewoonlik al wat oor is.
Soos neef Kallie sê, as jy wil geld maak, gaan werk by die Munt. Om
te boer, is ‘n geloofsdaad sonder kortpaaie!
Ou Neef, loop tog katvoet vir boereverneukers in die nuwe jaar. En
as jy dorp toe ry, hou 90 en hou links!
Groete op die Oosgrens!
Kleinneef
E-POSSE
aan Groot neef
Boereverneukers
Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by
kleinneef@graingrowers.co.za.
January 2017