40
Beste Grootneef
i
n onse dorpie het mense baie keer kortpad met name gevat.
Dikwels is ‘n plaasnaam as deel van die stamboom ingegooi
– veral as mense met dieselfde van naby aan mekaar gebly
het. Daar was kolle vir die Van Niekerks, die Van den Bergs,
die Van Aardes en so meer. En dan het jy maar ‘n plaasnaam
of nering bygevoeg om die spul uitmekaar te ken.
Soos Rudolf Paradys. Of Gerhard Rooipoort. Of oom At Kaalkop
– vir duidelike redes. Sy vrou, tannie Bettie, het ewe gelate die naam
Bettie-At aanvaar. Of tannie Florence Hare. Dié het eenmaal ‘n man
met ‘n half-geskeerde haredos gelos toe hy aan haar boud gevat het.
So was daar ook tant Nakkie en tant Tassie. Niemand was seker oor
die herkoms van hul name nie, want hul was maar altyd daar.
En dan was daar oom Armaans Grondpad. Dit was ‘n maklike een,
want oom Armaans het die padskraper gery. ‘n Lang seningrige man
in ‘n blou oorpak in ‘n geel masjien. Oom Armaans se vrou was effe
geset – en toe word sy tannie Ompad. Sout van die aarde-mense.
Die sinkplaatpaaie van die distrik is destyds deur oom Armaans
uitgestryk. Op ‘n Maandag vroeg kon jy sien hoe hy met die geel
padskraper, ‘n woonwa op hoë wiele en die dieselkar in gelid, die
dorp uitry en koers vat na een van die vele grondpaaie in die distrik.
By die padkamp het hy die woonwa vir die week staangemaak en
die werkers se tent laat opslaan. ‘n Padkamp was soms ‘n
toegekampte stukkie grond van die PAO, maar op meer afgeleë dele
was ‘n padkamp enige paar bloekombome wat skuiling teen die
westelike son gebied het.
Die padskraper en oom Armaans is met brute krag die bulte uit,
met die lem wat ‘n sooi los grond in die middel van die pad vir
die omdraaislag gelos het. Dit was nogal ‘n groot ding vir ons
plaasjapies om oom Armaans se geel padskraper te hoor aankom.
Met die gedreun van die skraper in aantog, is afgedraf pad toe om
die gevaarte eerstehands te beleef. Die vars geskraapte strook het
dan soos ‘n teerpad vir ‘n dikwielfiets geloop.
Oom Armaans het sy dag se heen-en-weer vanaf ‘n padkamp netjies
uitgemeet. Hy het geweet tot waar om die skraper te druk, om vóór
sononder weer in die padkamp te wees. Meestal was die pad twee
skraapsels breed. Hier en daar op die vlakte was ‘n effense breër
strook wat ‘n vier-skraapdraai nodig gemaak het.
Om ‘n pad te skraap het die beste gewerk na ‘n lekker bui reën geval
het, want dan kon die pad se sinkplaat met ‘n diep lem uitgepluis
word. In die droë seisoen was dit maar ‘n gesukkel met die skraperlem
wat eintlik net die gruis losgewoel het. Dié het dan soos albasters
oor die pad gestrooi gelê. Dit was meet en pas om ‘n kar se neus in
een rigting te laat loop oor sulke los gruis.
Hoe dit ook al sy, almal was altyd bly om ou Armaans en sy geel
padskraper te sien. Net so vir ‘n bietjie kontak met die buitewêreld
en nuus van die buurdistrik.
Tant Nakkie en tant Tassie is een middag dorp toe oor die vars
geskraapte pad. Tant Nakkie penorent soos ‘n meerkat agter die
stuur van haar bruin Datsun en tant Tassie met ses dosyn eiers op
haar skoot om te ruil vir negosieware.
Alles het goed gegaan tot op die laaste bult voor die dorp, toe hulle
oom Armaans op pad terug na sy padkamp ontmoet het. Eintlik
was die padskraper en die Datsun die enigste verkeer in die
omtrek. Dat hul mekaar op dié bult moes ontmoet, was pure
onvoorsienigheid.
Die verrassing van ‘n ander voertuig op die pad was vir beide partye
een te veel. Oom Armaans se stel valstande en die padskraper se
lem het verloor soos hy ankers gegooi het. Tant Nakkie het net een
rigting geken en dit was reguit om die draai, deur die doringdraad.
Oom Armaans was nog op ‘n drafstap op pad om te kyk hoe hy
kan help, toe die eier hom tref. Die res van die ses dosyn eiers
was verdeel tussen tant Nakkie en tant Tassie se kapsels en die
verkeerde kant van die voorruit.
Dié wat weet van die rampspoedige middag, het daarna baie begrip
gehad vir die bamboes met ‘n rooi vlag wat oom Armaans bo-
op die padskraper se kajuit vasgemaak het: Soos ‘n ster bo-op ‘n
krismisboom. En die res van die gemeente het ook verstaan waarom
tant Nakkie nooit weer verder as die tweede rat van haar bruin
Datsun gevorder het nie.
Ou Neef, as jy ‘n rooi vlaggie oor die bult sien kom, hou 90 en
hou links.
Groete op die Oosgrens!
Kleinneef
E-POSSE
aan Groot neef
Die padskraper
Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by
kleinneef@graingrowers.co.za.
Desember 2017