

Finansies van
wisselboustelsels
in die midde-Swartland ontleed
K
oringmonokultuur was vir lank die dominante stelsel in
die Swartland. Die destydse Koringraad was veral sterk en
kon koringproduksie grootliks steun, maar sedert die
ontbinding van die bemarkingsrade het ander gewasse in
gewildheid toegeneem.
Die gevolg is dat die area onder koring sedert die middel 1990’s
afgeneem het en ander gewasse in wisselboustelsels saam met
koring ingesluit is. Die gewasse sluit in kanola, lupiene, hawer, gars
(tot ’n kleiner mate) en weidingsgewasse soos medics en klawer.
Ten spyte van die afname in die area onder koring, is die
koringproduksie in die Swartland relatief konstant, wat toegeskryf
kan word aan wisselboupraktyke, beter bewerkingspraktyke en
tegnologiese vooruitgang met kultivars en meganisasie.
Kanola is in die 1980’s in Suid-Afrika bekend gestel, hoofsaaklik
as wisselbougewas saam met koring. As wisselbougewas bied
kanola bekende voordele – veral wat onkruidbestuur betref. Dit
maak dit dus nie net moontlik nie, maar ook aantreklik om kanola
in kleingraangewasstelsels in te sluit.
Bykomende voordele van kanola sluit in:
Verhoogde opbrengs in ’n daaropvolgende koringaanplanting.
Verlaging in siektedruk.
Verbeterde wortelstelsel vir opvolggewasse (deurlugting en
organiese materiaalinhoud verbeter).
Meer doeltreffende benutting van masjinerie.
Beter verspreiding van finansiële risiko.
Kanola as wisselbougewas kan egter slegs een keer in vier jaar op
dieselfde grond verbou word weens die risiko van grondgedraagte
siektes. Daar is steeds risiko in terme van slakke – veral in die
vroeë groeistadium, maar die uitdaging behoort oor tyd bestuur-
baar te wees.
Medics en klawer as weidingsgewasse is goed in die Swartland-
omgewing aangepas en dra weens die stikstofbinding by tot
grondvrugbaarheid vir opvolggewasse. As weidingsgewas vaar die
medics en klawersoorte uitstekend weens die hoë proteïeninhoud
in die groen groeiende plante, sowel as die sade wat die kleinvee in
die warm, droë somermaande kan benut.
Medics is goed aangepas vir goedgedreineerde klei-tipe gronde,
terwyl die klawersoorte weer die natter kolle kan akkommodeer.
Die kombinasie van medics/klawer-weidings is daarom ’n goeie
weidingsgewas vir die Swartland-area. Met goeie bestuur kan
medics en klawer vir ’n hele aantal jare self hervestig.
Ten einde die verskillende kombinasies van gewasse in wissel-
boustelsels te evalueer, is langtermynwisselbouproewe op die
Langgewens-proefplaas in die midde-Swartland sedert 1996
uitgevoer. Die proewe bestaan uit vier kontantgewasstelsels en
vier stelsels wat weidingsgewasse insluit.
Die bestuur van die proewe word so na as moontlik aan die
produksiepraktyke in die omgewing gedoen en daar word jaarliks
voor die aanvang van die produksieseisoen konsultasies met
produsente en ander rolspelers gehou om beste praktyke vir im-
plementering te bespreek.
Kontantgewasstelsels
Stelsel A: Koring, koring, koring en koring. Die stelsel is
basies ’n koringmonokultuurstelsel en dien as kontrole vir die
wisselbouproewe.
Stelsel B: Kanola, koring, koring en koring. In die stelsel dien
kanola as alternatiewe gewas elke vier jaar, met gepaardgaande
voordele – soos vroeër bespreek.
Stelsel C: Koring, kanola, koring en lupiene. In die stelsel word
koring elke jaar afgewissel met ’n breëblaargewas, waarvan een
’n stikstofbinder is.
Stelsel D: Koring, koring, lupiene en kanola. Dieselfde gewasse
as in stelsel C, maar met variasie in die opeenvolging van die
gewasse.
Kontantgewas/weidingstelsels
Stelsel E: Koring, medics, koring en medics. Die stelsel simuleer
’n situasie waar die helfte van ’n boerdery onder weiding
(medics) is en skape word aangehou op die medics-kampe. Die
ras is Dohne Merino, wat vleis-/wolskape is. Die medics dien ook
as stikstofbinder.
Stelsel F: Koring, medics/klawer, koring, medics/klawer. Die-
selfde opeenvolging as stelsel E, maar met klawer as deel van
die weidingsmengsel om voorsiening te maak vir die natter kol-
le op lande.
Stelsel G: Medics, koring, medics en kanola. In die stelsel
word kanola in een jaar ingesluit in die plek van die ekstra
koringjaar vir die potensiële voordele – soos reeds genoem. Dit
is dus die enigste stelsel wat op ’n stelsel werk wat minder as
50%-oppervlakte onder koring insluit.
Stelsel H: Koring, medics/klawer, koring en medics/klawer (met
oumansoutbos). Dit is dieselfde as stelsel F. Die oumansoutbos,
alhoewel dit deel van die oppervlak beslaan, laat toe dat skaap
nie met die aanvang van die seisoen op die medics/klawer-
weidings wei nie en die weiding kan ordentlik vestig voor
daar weidingsdruk plaasvind. Dit verbeter die drakrag van die
weidings.
71
November 2018
OP PLAASVLAK
Bestuurspraktyke
Wisselbou / Kontantgewasse / Weidingsgewasse
CONRAD BASSON,
meestersgraadstudent by Universiteit van Stellenbosch,
DR WILLEM HOFFMANN,
landbou-ekonoom,
Universiteit van Stellenbosch,
DR JOHANN STRAUSS,
senior navorser: Plantproduksiestelsels, Wes-Kaapse Departement
van Landbou en
PIETMAN BOTHA,
SA Graan/Grain
redaksiespan
KORING NA KORING KORING NA KANOLA KORING NA LUPIENE
KORING NA MEDICS EN
MEDICS/KLAWER
Opbrengs (t/ha)
2,6
3,3
3,5
3,6
TABEL 1: OPBRENGS VIR KORING NA ANDER GEWASSE SOOS BEHAAL IN DIE LANGGEWENS-WISSELBOUPROEWE VIR 2002 - 2015.