Background Image
Previous Page  42 / 44 Next Page
Basic version Information
Show Menu
Previous Page 42 / 44 Next Page
Page Background

40

Beste Grootneef,

o

u Neef, vanmiddag laat het ‘n buitjie reën by die bure

verbygetrek. Ons kon die reën op die oostewind ruik,

maar by ons is dit nog steeds bitter droog. Miskien kry

ons vanaand ‘n bietjie reën. Of dalk môre.

Die veld is asvaal en die skape kry swaar. Ons voer maar

elke dag met laasjaar se mielies, net om die diere deur die ergste

te kry. Die skape kom al aangedraf as hul die bakkie sien. Soos die

streep mielies val, tel hulle dit pit-vir-pit op. Die ergste is om die hek

weer toe te maak, met die trop wat blêr vir nog. Die veld lyk soos

winter. Hopelik kom die reën gou.

Ou Neef, ‘n goeie vrou, ‘n goeie hond en ‘n goeie mes is skaars. ‘n

Mens moet dit mooi oppas. Veral ‘n goeie mes moet gekoester word.

‘n Mes in die broeksak is naderhand deel van ‘n man. So gerus-

stellende teenwoordigheid met die wete dat ‘n onverwagse braai

jou nie onverhoeds sal betrap nie. Want met ‘n mes in die sak, is jy

immer paraat – of dit nou vir naels skoonmaak of biltongkerf is.

Ou Neef, in toeka se dae was my eerste mes ‘n BEST. In die volks-

mond het ons sommer gepraat van ‘n “baas ek sny tog!” So ‘n

swart blikhef met silwer letters op die geriffelde kante. ‘n Regte

“parraslagter“. Met dié BEST-mes is alles van ‘n kettiemik tot ‘n hond

se stert afgesny. Die lem was naderhand so dun soos ‘n els geslyp.

Later jare het ‘n egte Kershaw in my sak beland.

Sonder ‘n behoorlike slypsteen, bly ‘n mes maar ‘n stomp voorwerp.

En ‘n stomp mes is net so erg soos ‘n krip sonder water. Oupa Willem

het destyds vir drie dae lank met ‘n skeerder uit Lesotho onderhan-

del vir ‘n slypsteen met ‘n baie fyn grein. Einde ten laaste, op die

dag wat die skeerspan na die volgende plaas versit het, is die

transaksie beklink. Een slypsteen vir ‘n sjieling en ‘n sak mielies! Die

slypsteen is as trofee op die suidestoep geplaas en al wat slagmes

of knipmes was, is op die steen geslyp.

Die kuns was om ‘n handvol water oor die slypsteen te drup, net

om die klip en staal mooi met mekaar te versoen. Die mes is dan

met duim en voorvinger op dieselfde hoek gehou en met reguit

hale oor die steen getrek. Altyd weg van jou, nie heen en weer nie.

Wanneer die water op die klip so gryserig geraak het, het jy geweet

die klip se grein en die mes se lem praat saam. Die lem kon jy met

jou duim voel-voel, tot jy geweet het jou mes is slaggereed!

Geen mes hou daarvan om stomp te wees nie. Vanmelewe tot

vandag trek ek maar die lem elke week oor dieselfde slypsteen. Net

om seker te maak dat daar nie gesukkel word om ‘n skaaptjoppie

vas te keer nie. En as jou vingers lekker vetterig is na ‘n vleisie, olie

jou mes alkant toe met die vetjie. Vryf dit in en poets dit met jou

hoed. Jou mes se hef kry oor jare daardie diep glans en sal jou

beloon om sy werk in enige wind of weer te doen.

Met die nuwe jaar in sig, sit en kerf ek vanaand aan ‘n laaste

2015-blesbokbiltong. Salig man. Sulke dun skyfies, jy sien amper

dwarsdeur. En met vingerpunte op die bekende knobbels van die

hef, raak mens eintlik aan ‘n tydgleuf van toeka, toe jy as laaitie met

dieselfde mes ‘n biltongetjie gekerf het. Dis maar net die vingers

wat effe ouer voel.

Ou Neef, hou maar daardie knipmes vlymskerp vir 2016. ‘n Mens

weet nooit vooraf of jy ‘n seningbiltong uit die sak van die lewe trek

nie. En dan moet jy nie met ‘n stomp mes sukkel nie.

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

E-POSSE

aan Groot neef

Hou die lemme skerp

Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by

kleinneef@graingrowers.co.za

.

Januarie 2016