Agrochemiese middels:
Om te meng of nie te meng nie
Die impak wat ‘n tenkmengsel van agrochemiese middels op gewasproduksie het, word meestal deur
produsente onderskat.
Daar is ‘n magdom van saadbehandelings, onkruiddoders, insekdoders, swamdoders, nematisiede asook
plantgroeireguleerders op die mark wat deur produsente gebruik kan word. Die mengbaarheid van hierdie
produkte moet egter streng volgens registrasievoorskrifte geskied. Dit beteken dat elke produketiket ‘n
afdeling bevat waar “mengbaarheid/mixing instructions” aangespreek word en dat agrochemiese middels
nie lukraak met mekaar gemeng kan word nie. Die effek en impak van ‘n “tenkmengsel” is ook gewoonlik
nie dadelik sigbaar nie, maar eers aan die einde van ‘n seisoen wanneer geoes word, óf selfs eers die
volgende seisoen waar agrochemiese middels moontlik ‘n lang nawerking het en daar steeds residu in die
grond agtergebly het.
Wanneer middels slegs lukraak gemeng word, kan dit die onderskeie produkte se werking óf inhibeer, óf
verhoog, wat kan lei tot gewasskade en/of oneffektiewe beheer. Dit is dus nie die produkte wat foutief is
nie, maar die “tenkmengsel”. Verder speel die sogenaamde hardheid en pH van water ook ‘n baie groot
rol wanneer middels met mekaar gemeng word. Wanneer sogenaamde harde water (‘n aanduiding van
onder andere CaCO
3
in die water) of water met ‘n té lae pH (<4) gebruik word om agrochemiese middels
te meng, kan die aktiewe bestanddele uitsak (presipiteer), ‘n emulsie vorm (jelagtige vloeistof) of aan ander
molekules bind en nie in oplossing gaan nie – die regte aktiewe bestanddeel is dan nie beskikbaar om sy
werk te doen nie.
Daar is ook ‘n definitiewe volgorde waarin agrochemiese middels in tenkmengsels gemeng moet word.
Eerstens moet die water “reggestel” word. Wanneer die pH te laag is, moet daar eers ‘n buffer in die
tenkwater gegooi word. Daarna kan ‘n produk soos ammoniumsulfaat bygevoeg word (indien nodig
en soos voorgeskryf deur die produk se etiket) om “harde water” reg te stel. Die formulering (wat ‘n
indikasie is van die oplosbaarheid van ‘n produk in water) van agrochemiese middels speel ook ‘n rol
in die mengbaarheid van produkte. Dit word op die etiket of soms in die naam van ‘n produk aange-
dui. So byvoorbeeld is Roundup PowerMax™ of Guardian S
®
EC oplosbare konsentrate (SL), wat aan-
dui dat dit ‘n emulgeerbare konsentraat is. Die korrekte volgorde van sekere formulerings is soos volg:
WG>GR>WP>SC>CS>EC>SL.
Wanneer die produk in die tenkwater gemeng moet word, is dit raadsaam om eers die produk op te
los in ‘n bietjie water en dan met die res van die tenkwater (wat klaar voorberei is) te meng, veral waar
die produk in ‘n korrelformulering is. Sekere onkruiddoders kan met sukses (en volgens registrasie) met
insekdoder gemeng word, maar swamdoders is as ‘n reël nie mengbaar met onkruiddoders nie. Byvoeging
van enige ander produkte, soos byvoorbeeld groeireguleerders en bymiddels (penetreerders, benatters)
moet met groot omsigtigheid hanteer word. Slegs geregistreerde produkte met aanduidings op hul etikette
kan bygevoeg word en menginstruksies moet ten alle tye gevolg word. Produsente kan hul vingers lelik
verbrand deur lukraak enige middels met agrochemiese produkte te meng.
Vir verdere navrae, skakel Elbé Hugo by 018 299 6298 of stuur ‘n e-pos na
HugoE@arc.agric.za.
Skrywer: Elbé Hugo, LNR-IGG