Graan SA maak ‘n impak op verskeie gebiede
Graan SA kyk met dankbaarheid terug op 2013;
‘n jaar waarin waardevolle gespreksvoeringe
en aksies met verskeie belangegroepe in die
landbousektor plaasgevind het en in sekere
gevalle reeds bygedra het tot die afhandeling
van spesifieke doelwitte wat deel van Graan SA
se strategiese fokusareas vir 2013/2014 vorm,
waaronder die volgende:
Markuitbreiding
Die vraag- en aanbodverslag word sedert Junie
2013 maandeliks deur die Nasionale Land-
boubemarkingsraad gepubliseer. Graan SA het
die aanvanklike aansoek ingedien wat tot die
vestiging van die Vraag- en Aanbodkomitee
gelei het.
Graan SA se aansoek vir ‘n verhoging in
die koringtarief het aanleiding gegee tot die
aankondiging deur die Minister van Handel en
Nywerheid, dr Rob Davies, dat ‘n koringtarief-
beskermingsvlak van $294/ton VAB (vry-aan-
boord) goedgekeur is.
Aksies om die afskaffing van die liggingsdif-
ferensiaal te bewerkstellig, duur voort. Daar is
egter goeie vordering ten opsigte van basis-
verhandeling, terwyl daar steeds gepoog word
om ‘n Commitment of Traders-verslag plaaslik
gevestig te kry.
Graan SA het ook met Tesourie, die Finansiële
Diensteraad sowel as met die JSE geskakel in
verband met die impak wat hoë frekwensie
algoritme-verhandeling op die termynbeurs en
verskansing kan hê.
Bedryfsdienste het onlangs die besluit geneem
om ‘n namiddagmarkverslag bykomend tot die
oggendmarkverslag te publiseer. Navrae ten op-
sigte van markinligting kan in Afrikaans, Engels,
Tshivenda, Sesotho, IsiXhosa en IsiZulu hanteer
word. Markinligting is ook as potgooie op die
webtuiste beskikbaar.
Uitbreiding van die vraag-kant
Wesenlike geelmielie-uitvoere het gerealiseer ná
gesprekke met afvaardigings uit Japan, Taiwan
en China gehou is. Sedert die begin van die
2013/2014-bemarkingsjaar tot Oktober 2013
het Japan reeds ongeveer 596 315 ton en
Taiwan nagenoeg 168 444 ton Suid-Afrikaanse
geelmielies ingevoer.
Die verpligte inmenging van biobrandstof sal op
1 Oktober 2015 geïmplementeer word. Graan
SA het lank gewag vir die afkondiging van die
aanvangsdatum waarop petroleummaatskappye
verplig sal wees om biodiesel en etanol by diesel
en petrol in te meng.
Leierskap
Deurlopende skakeling het tussen Graan SA en
die Departement van Grondsake en Landelike
Ontwikkeling plaasgevind oor die Groenskrif
wat oor die grondbeleid handel.
Graan SA het die voorgestelde wysigings wat
die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye in
Junie 2013 ten opsigte van die Landboubemar-
kingswet gepubliseer het, ontleed, regsopinies
ingewin en moontlike implikasies gekwantifiseer.
Die minister het egter hierdie proses op die
ys gesit.
Die Landbou-eenheidsforum (ASUF), waarvan
Graan SA deel is, speel ‘n belangrike rol om nie
net oplossings vir probleme binne die land-
bousektor te vind nie, maar ook vir kollektiewe
gespreksvoering met die regering. Graan SA
het as lid by die African Farmers’ Association
of South Africa (AFASA) aangesluit en lewer
waardevolle insette namens die graanbedryf op
dié forum. Die Sasol Navorsingstrust is ook op
dreef en die eerste projekte se fondse is selfs al
uitbetaal.
Die Graan SA Kongres se formaat is verlede
jaar aangepas om paneelbesprekings deur
kundiges in te sluit – positiewe terugvoer oor dié
kongres is ontvang. Ten spyte van ‘n uitdagende
produksiejaar, het 72 376 besoekers verlede
jaar Graan SA se NAMPO Oesdag bygewoon.
G
RAANGIDS
2014
4