4
e
k het regtig arm grootgeword. Daar was meestal genoeg
om van te lewe, maar bykans nooit te veel nie. Tog het
my ma my iewers in my lewe die les geleer van “te veel
van ‘n goeie ding is nie goed nie” – soos te veel lekker-
goed eet en koeldrank drink by 'n partytjie van die ryk
kinders op die dorp. Dan kry jy maagpyn en kan selfs
naar raak met negatiewe gevolge.
Ons droom jaar na jaar van oorvloedige oeste en bid dit vir mekaar
toe as die plantseisoen aanbreek of met verjaarsdae. Nou is ons daar
wat die somergesaaides betref. ‘n Oorvloed inderdaad! Kan te veel
van ‘n goeie ding ooit sleg wees?
Die oorvloed van mielies het beslis buitengewone uitdagings. Die
tapkarre kreun, die vragmotors raak vol, die silo’s loop oor, maar
die bankrekeninge bly leeg. Hoe moet ‘n mens dan só ‘n situasie
beoordeel?
Dit is te vroeg om alreeds oor die seisoen terug te kyk, maar laat
ons begin deur dankbaar te wees. Dieselfde lande wat nou rekord-
oeste vir die meeste van ons oplewer, was ‘n paar maande gelede
bykans weggewaai. Dit was ‘n lang proses om verlede jaar se tap-
karre vol te kry. Ons silo’s moes vir vreemde mielies van ver lande
af plek maak.
Graan SA was nog in die middel van droogtehulpgesprekke en
nuwe navorsingsplanne om droogtebestande- en hittebestande
mieliekultivars van oorsee af in te bring, toe die produsente die
reset
-knoppie druk en ons uitvoermarkte moes begin soek. Hierdie
gebeure en uiterste skommelings het gemaak dat bemarking
van mielies selfs belangriker geword het. Dit is beslis een van die
duurste lesse wat ons uit hierdie oorvloedjaar geleer het. Die pryse
maak seer, diep seer!
Die aanhoudende oproepe by ons kantoor vir opleiding oor hoe
om beter te verskans, is duidelike bewyse daarvan. Hopelik is die
reaksie op die afgelope twee jaar van uiterstes – nuwe navorsing
om droogte die hoof te bied en beter kundigheid om prysrisiko te
bestuur – die kombinasie wat nodig is om volhoubaar te bly.
“Om te weet of nie te weet nie,” is die koringtarief se storie. Na ‘n
uiters suksesvolle hofsaak om die staat te dwing om die ou koring-
tarief aan te kondig, het die Minister versoek dat die hele tariefstelsel
weer ondersoek word. Hulle was van mening dat die tarief te hoog is.
Hoë voedselpryse, ‘n swak wisselkoers (en ons weet wie dit veroor-
saak het) en ‘n verkiesing was die hoofdrywers van hul besluit.
Graan SA het ure en ure lank dokumente opgestel en onderhande-
lings gevoer. Ons hoofdoel was om die model te behou en die tarief
so hoog as moontlik te hou – veral met die wete dat die staat net een
doel voor oë gehad het – dit moes laer!
Die spanning in die koringbedryf was op breekpunt en die leiers
was later van mening dat ‘n laer afgekondigde tarief nou beter gaan
wees as om dit nie te publiseer nie. Laat die onsekerheid net ophou,
het hulle gevra. Niks het verhandel nie.
Die finale uitkoms daarvan was toe laer, maar nie soveel laer as wat
ons op een stadium verwag het nie. Dat sommige produsente dit
nie te wagte was nie, plaas vraagtekens oor ons kommunikasiever-
moëns, of produsente se leesvermoë. Die markte het vir maande
lank gaan staan om te wag vir die aankondiging wat net een uitkoms
kon hê, maar nogtans was dit ‘n verrassing vir sommige van ons.
Deel van volhoubaarheid is beslis om te lees en jou ore oop te hou
– veral as dit oor die pryse van jou produkte gaan. Ten spyte van
beter landboutoestande, trek die meeste graanprodusente swaar.
Ons planne is nog nie op nie. Hou moed, produsente!
Kan te veel van ‘n goeie ding
ooit sleg wees?
JANNIE DE VILLIERS,
uitvoerende hoofbestuurder/CEO
“
Hierdie gebeure en
uiterste skommelings
het gemaak dat
bemarking van mielies
selfs belangriker
geword het.
“
STANDPUNT
POINT OF VIEW
Graan SA
Augustus 2017