

80
Beste Grootneef
o
rion en Sirius is saam oor die westerkim vir die noorde
se somer. Die koue wintersaande in die Vrystaat
word nou met die Skerpioen en die Suiderkruis versier.
Helder, skoon aande met koue nagte. En kraakvars
oggende met spierwit ryp oor die vleie uitgestrooi.
Ou Neef, so loop die seisoene die een na die ander en los ons met
ouer bene en groter kinders. En met okkasies om te gedenk.
‘n Okkasie is ‘n lekker ding. Jy kan hom saamdra deur al jou seisoene
tot by die einde. ‘n Okkasie gee altyd so ‘n soet nasmakie op die
onthou-palet: ‘n Mymering oor iets wat ‘n verskil gemaak het aan
hoe jy na die lewe kyk.
Een okkasie wat oom Fanie altyd ophaal, is die opening van Pep
Stores op Makwassie. Dit was ‘n grote. Neef Richard praat weer met
heimwee van die inwyding van Nuweland se spreiligte in ’97.
Buurman vertel graag van sy
blind date
-okkasie. Hy sê hy moes
al onraad vermoed het toe almal wat hom aan die meisie wou
voorstel, van haar mooi persoonlikheid gepraat het. Toe hy met
‘n rooi angelier in sy kispak vir die afspraak opgedaag het, het sy
broek gebewe. Maar toe die meisie omgedraai en geglimlag het,
was die versoeking groot om die hasepad te
vat. Want sy het so effe op ou Poon getrek:
‘n Glimlag vol uitstaantande. Dit het gelyk of
sy ‘n appel deur ‘n raket kon eet. Maar die
liefde is blind. Vandag kyk niemand na die
kinders met die effe skewe tande wat op die
skoolbus klim nie.
Die okkasie van die jaar was egter NAMPO
2018. Die plek raak net te groot. Hulle moet ‘n
wyntuin aan die suidekant opsit sodat mense
kan asem vat voor die lang terugtog!
Ou Neef, maar ‘n okkasie uit die verre verskiet,
is die inwyding van die Taalmonument in die
Paarl. Nie oor die monument nie, maar oor die
reis om daar te kom.
Oupa Klaas se reis het in die laat 1800’s
begin, toe hy in ‘n wa by ‘n veepos naby
Brandfort gebore is. In sy lewe het hy okkasies
sien kom en gaan: Met ‘n lewensreis as kind
deur die Engelse konsentrasiekamp, tot
by Winburg as skoolmeester. Van dáár, na
Liefdefontein naby die Rustfontein Halte om
sy droom as boer te leef. Tot by sy oudag op
Dewetsdorp, in die huis op die hoek nes jy die dorp van Bloemfontein
af inkom. Die ou huis was vol boeke. En vol herinneringe van verhale
oor okkasies.
Die grootste okkasie van oupa Klaas was egter die reis per vliegtuig
van Bloemfontein af Kaap toe vir die Taalmonument se inwyding.
Ou Neef, en dit is die wonder van ‘n okkasie: Dat ‘n mens in een
leeftyd ‘n ossewa en ’n vliegmasjien kan beleef! Jy moet net bereid
wees om op te klim.
Wie sou 30 jaar terug gedink het dat ons foto’s met telefone sou
neem? Of dat ‘n telegram tot in die vergetelheid gefaks gaan word?!
En dat ‘n faks met die druk van ‘n vonkposknoppie oudmodies sou
raak. En nou het almal ‘n toep, want dit is ‘n vinnige slingervel om
nuus die wêreld in te stuur. Watse okkasies lê daar nie vir ons kinders
voor nie! Vakansies op Mars?
Ou Neef, maar enige okkasie is harde werk: Dit gebeur nie vanself
nie. Begin betyds aan jou okkasie beplan. Eendag is ‘n leeftyd ver en
dan is jy dalk te kruppel om die Drakensberge te gaan klim.
Groete op die Oosgrens!
Kleinneef
e-posse
aan Groot neef
‘n Okkasie
Lesers is welkom om ‘n e-pos na Kleinneef te stuur by
kleinneef@graingrowers.co.za.
Junie 2018