72
Beste Grootneef
k
yk, ‘n melkkoei het mos ‘n gewoonte om elke keer op
dieselfde plek in ‘n stal te loop staan. Dis nou voor die dae
van
fênsie
melkerye en sirkelwiele waar ‘n koei haar maar
op die naaste oop plek moet tuismaak. Die ouer manne
sal onthou van die dae toe in ‘n koeistal gemelk is; elke
koei het haar plek geken. Anders sak sy nie óf skop die
emmer om.
Mense is maar net so. In die kerk het elk sy plek. Elke familie in gelid
van oudste tot die jongste geletterde. En waag ‘n vreemde om een
oggend op hul bank te sit, oorweeg die pater familias dit op staande
voet om af te stig. Jy kan maar sê dit was ‘n soort van vruggebruik.
Dis nie regtig joune nie, maar vir een keer ‘n week het jy jou sit kom
kry, asof die bank net aan jóú behoort.
Die bank se verbintenis eindig ook nie met ‘n begrafnis nie. Nee,
die volgende geslag loop sit ook daar. Hulle is immers uit die
bank gedoop!
As kind het ons so stil soosmuise gesit. Nie gewaag om te roer nie. Ons
is die leviete voorgelees dat die dominee onder die kansel ‘n emmer
met witgeverfde steenkool reghou. Dis nou om stout kinders mee
te gooi. Die steenkool is spesiaal witgeverf,
sodat dit nie sy hande sou besmeer nie. Ons
is ook gereeld daaraan herinner dat dit vir
die dominee deur al die jare nog nooit nodig
was om ‘n kind met die wit steenkool te gooi
nie. En jy wou nie daardie eerste een wees
nie! Stil soos muise gesit, ek sê jou.
Die voordeel van elke gesin op sy bank, was
dat jy sommer gou kon sien wie in die kerk
was. Kyk, ‘n ouderling het sommer so voor
die diens ‘n koptelling gehou en na afloop
gebel om te hoor of alles wel is, sou jy dalk
die oggend nie in die kerk wees nie. Net om
te hoor of daar nie dalk siekte of teëspoed
is nie.
Die kraak van ‘n kerkbank trek ver. Ou Attie,
die orrelis het altyd so 10 minute of wat
vooraf die orrel bespeel. Maar in daardie
stilte vóór die orrelspel, het die houtbanke
en dakbalke die praatwerk gedoen. So met
‘n paar bosduiwe wat in die agtergrond
brom. Hier en daar ‘n kuggie uit ‘n droë
keel. Die kuns was om ongesiens ‘n pienk
ouderlingspilletjie in die kies te kry vóór jy
die kerk instap. En dan suig jy hom, want
niks mag roer nie.
Die kerk het ook ‘n eie mengsel van geure gehad, met speserye van
ou gesangeboekies en vloerpolitoer. ‘n Aangename adem wat een
keer per week met ‘n oop kerkdeur losgelaat is. ‘n Subtiele geur, wat
jou net beloon het wanneer jy doelbewus daarna gelet het.
En so is ons vele dienste deur, van Jonah met sy walvis, tot by
Simson. Ek wonder darem nog altyd oor daardie jakkalse wat
Simson so met brandende fakkels in die Filistyne se lande losge-
laat het...
Oujaarsaand het ons weer die ou kerk besoek. Daar is maar net ‘n
klompie siele oor. Party van die derde- en vierde geslag in dieselfde
bank. Die ou bekendes se plekkies is leeg en die gesange sagter.
Ná 100 jaar het die ou kerkgebou die bittereinders en al die afstig-
ters oorleef. Na die diens het ek vinnig onder die preekstoel gaan
kyk. Daar is toe wraggies nie meer ‘n emmer vol witgeverfde steen-
kool nie. Geen wonder dat die japsnoet agter in die kerk so woelig
was nie.
Groete op die Oosgrens.
Kleinneef
E-POSSE
aan Groot neef
Witgeverfde steenkool
Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by
kleinneef@graingrowers.co.za.
Februarie 2015