October 2012
In antwoord op gerugte vroeër die jaar dat me Tina Joemat-Pettersson, Minister van Land bou, Bosbou en Visserye, die verskillende landboukom-
moditeitstrusts, wat ná die ontbinding van die bemarkingsrade gestig is, wil laat ontbind, het SA Graan/Grain by die verskillende trusts gaan uitvind hoe hulle die toekoms van navorsing sien. Wat beteken die trust vir navorsing, watter bydrae lewer die trust tot navorsing en hoe sien die trust die pad vorentoe, is van die vrae wat gevra is.
Uit die verskillende trusts se antwoorde blyk dit dat die trusts daarop fokus om die spesifieke navorsings behoeftes van elke bedryf aan te spreek. Soos wat mnr John Gordon, voorsitter van die Olie- en Proteïensade Ontwikke-
lingstrust tereg vra: As die trusts ontbind; wie gaan die werk doen en met watter befondsing? Dit blyk dat die toekoms van navorsingsbefondsing in die trusts opgesluit lê.
John Gordon, voorsitter: Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust
Dit is inderdaad so dat die Minister van Landbou uitlatings gemaak het oor die trustfondse, welke uitlatings vervat is in artikels in sekere tydskrifte. Dit is egter nie die eerste keer dat die aangeleentheid opduik nie en die saak is al ‘n paar keer geopper sedert die ontstaan van die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust.
Sedert 1997 en nieteenstaande die dreigemente van ontbinding en ver-
vreemding van trustfondse, het die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust, Oliesade Advieskomitee, Sonneblom- en Sojaboon forum en SA Grondbone-
forum ‘n kardinale rol gespeel ten opsigte van die befondsing van navorsing en die bevordering van oliesade in Suid-Afrika sowel as die verskaffing van inligting deur middel van die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS).
Die noodsaaklike inligting wat deur SAGIS verskaf word, word uitsluitlik deur die vier graantrusts befonds. Tewens, al die genoemde organisasies kan as dinamies in hul onderskeie dampkringe beskou word. Die Olie- en Proteïen-
sade Ontwikkelingstrust het nog voor daar geluide was dat fondse aan opkomende landbou spandeer moet word, reeds projekte in dié verband befonds. Die afgelope drie jaar word 30% - 35% van die navorsingsbegroting aan opkomende landbouprojekte spandeer.
Ten spyte van spesifieke kleinboerprojekte, is die siening van die trustees van die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust en lede van die Oliesade Advieskomitee dat alle navorsing wat befonds word, tegnologie- oordrag wat gedoen word asook enige bevorderingsaksie, tot voordeel van kommersiële produsente sowel as kleinboere is.
Die strukture van die oliesadebedryf is tot so ‘n mate saamgestel dat dit die navorsingsbehoeftes van die totale oliesadebedryf kan bepaal. Só word die gemelde forums en Oliesade Advieskomitee gebruik om navorsingsbehoeftes te bepaal. Die pligte van die Oliesade Advieskomitee strek egter verder deurdat die komitee ook verantwoordelikheid aanvaar vir die bestuur van die projekte wat deur verskeie navorsingsinstansies en universiteite uitgevoer word. Die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust bestuur die fondse en daar kan met trots gesê word dat sedert 1997 nog geen navorsingsprojek wat meriete het, afgekeur is as gevolg van ‘n gebrek aan fondse nie. Wat die situasie nog meer uniek maak, is dat daar nie statutêre heffings is nie.
Dit is alombekend dat nie net navorsingskapasiteit nie, maar ook fondse vir navorsing vir ‘n geruime tyd onder druk is en bly. Só het die druk op die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust en die ander gemelde komitees om meer te doen om die bedryf te bedien met inligting wat benodig word, toegeneem. Deur nouer bande te smee met rolspelers in die bedryf, goeie bestuur van die trustfondse en ‘n gevestigde administrasie kon daarin geslaag word om die druk te verwerk en steeds die behoeftes van die oliesadebedryf ten opsigte van navorsing, tegnologie-oordrag, verskaffing van inligting en bevordering van gewasse te bevredig en uit te brei.
Die vraag bly dus nou: Hoe lyk die pad vorentoe? Tyd het geleer dat die trust en ander strukture binne die oliesadebedryf tot so ‘n mate ‘n bydrae lewer tot die bevordering/uitbouing van dié bedryf, dat dit ‘n kwade dag sal wees as dit ontbind word. En ja, daar is nog baie werk wat gedoen kan word ten opsigte van tegnologie-oordrag, verskaffing van inligting en die opheffing van kleinboere, om nie eers te praat van voortdurende navorsingsversoeke uit produsente-geledere nie.
Kom ons antwoord die vrae oor die ontbinding van die trusts en die rol wat die trusts in die toekoms kan speel met die volgende teenvraag: Wie gaan die werk doen en met watter befondsing? Die regering en/of dalk nog heffings op produsente en rolspelers in die bedryf? Is daar bestaande instansies wat die suksesrekord van die oliesadebedryf kan nadoen en die momentum kan behou? Dink mooi, baie mooi, voor jare se harde werk en die toekoms van navorsingsbefondsing sommer net so ongedaan gemaak word.
Leon du Plessis, L&L Landboudienste, Administrateurs: Sorghumtrust
Soos die meeste ander landboutrusts, is die Sorghumtrust verantwoordelik vir die befondsing van noodsaaklike navorsing en ander projekte tot voordeel van die bedryf.
Die fondse van die Sorghumtrust word uit die bestaande heffing op sorghum verkry. Die oesgrootte en die betalingsukses deur bedryfsrolspelers bepaal dus die beskikbare fondse wat in enige gegewe jaar deur die trust aangewend kan word. Die projekte wat in 2011 deur die trust vir spesifieke projekte befonds is en waarvan die fondse fisies in daardie jaar uitbetaal is, is soos volg:
Graan SA | R314 176 |
Landbounavorsingsraad (LNR) (totaal alle institute) |
R592 900 |
SAGIS | R492 867 |
Universiteit van die Vrystaat | R163 465 |
Noordwes-Universiteit | R160 053 |
Opwindende inisiatiewe – Befondsing en aksies deur die Mielietrust
Leon du Plessis, L&L Landboudienste, Administrateurs: Mielietrust
Benewens die normale befondsing van mieliebedryfsprojekte, is die Mielie-
trust voortdurend besig met nuwe inisiatiewe tot voordeel van die bedryf. Die vestiging van bewaringslandbou in Suid-Afrika, is die nuutste inisiatief wat hierdie afgelope jaar geloods is. ‘n Werkswinkel oor bewaringslandbou is onder andere deur die trust gehou. Die werks winkel is goed bygewoon deur belangstellendes en dit het tot sekere besluite gelei wat nou in die proses van uitvoering is.
Die gedagte is om uiteindelik ‘n gemeenskaplike en doelgerigte fokus vir bewaringslandbou te ontwikkel. Die basis vir hierdie inisiatief was die ontwikkeling en aanvaarding van ‘n protokol, besigheidsplan en evalue-
ringsproses vir navorsing wat op bewaringslandbou betrekking het. ‘n Eweknie evalueringskomitee van kundige navorsers gaan ontwikkel word, wat elke aansoek vir die befondsing van bewaringslandbounavorsing
behoorlik sal evalueer en oorweeg. Alleenlik die aansoeke wat aan streng neergelegde vereistes voldoen, sal dan by die relevante bedryfskomitees aanbeveel word.
Hierdie komitees sal op hulle beurt verdere aanbevelings aan die trust maak, wat dan sal besluit of die aansoeke befonds word, al dan nie. Daar is min twyfel dat hierdie inisiatief verbeterde samewerking tussen navorsers, navorsingsinstansies en ook produsente sal meebring, wat tot beter benut-
ting van beskikbare fondse en tot meer suksesvolle navorsingsresultate oor tyd sal lei.
Beursskema
Die Mielietrustbeursskema bly deurlopend uitstekende MSc en PhD studente oplewer wat die graanbedrywe in die toekoms met groot waarde kan dien.
Jaarliks lewer die trust se beursskema sowat ses tot sewe nagraadse studente aan die mark. ‘n Totale bedrag van sowat R700 000 per jaar word deur die trust aan die beursskema toegeken. Die trust het ook aan die einde van 2010 ‘n stelsel van internskappe vir die gegradueerdes geloods, wat beteken dat hulle vir minstens een jaar ná hulle studies tot die direkte voordeel van hulle kennis in die mielie bedryf aangewend kan word by universiteite of navorsings liggame.
Befondsing vir navorsing
Die projekte wat in 2011 deur die trust vir spesifieke navorsing befonds is en waarvan die fondse fisies in daardie jaar uitbetaal is, is soos volg:
Graan SA |
R7 981 417
|
Landbounavorsingsraad (LNR) (totaal alle institute) |
R14 077 078
|
Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) |
R3 338 377
|
Universiteit van Kaapstad |
R384 108
|
Dr. W.J. van der Walt - FoodNCropBio |
R21 773
|
No-Till Klub van KwaZulu-Natal |
R293 030
|
Universiteit van Stellenbosch |
R698 407
|
SiQ (Edms) Beperk |
R226 748
|
Sandgrond Ontwikkelingskomitee |
R366 900
|
Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) |
R70 000
|
Tshwane Universiteit van Tegnologie |
R90 000
|
Noordwes-Universiteit |
R135 500
|
Mediese Navorsingsraad |
R199 500
|
Befondsingsmodel
Die Mielietrust befonds uiteraard nie net navorsing en beurse nie, maar ook ander uiters belangrike projekte namens die mieliebedryf. Markinligtings-
projekte (van onder andere SAGIS) en ook transformasieprojekte val onder die ander projekte wat deur die trust befonds word.
In Figuur 1 word die riglyn befondsingsmodel van die trust wat toegepas word, geïllustreer. Die model gee nie slegs die huidige persentasies en bedrae weer wat aan die verskillende soorte projekte bestee word nie, maar ook die verdeling van die befondsing ten aansien van elke doelstelling van die trust.
Jannie de Villiers, voorsitter: Wintergraantrust
Navorsing is onontbeerlik vir die graanbedryf om mededingend te bly. Daar is voordurend druk om meer met minder te produseer en sodoende voedselsekerheid (hoeveelheid, bekostigbaar en veilig) te verseker. Die samewerking in die wintergraanbedryf is puik en die invordering van die statutêre heffings is uitstekend. Ons gemiddelde insamelingskoers is ongeveer 98% van die jaarlikse verbruik. Die fondse van die trust gaan ook om die SAGIS in stand te hou wat al die graanbedryf se inligting voorsien. Hierdie inligting is noodsaaklik om die mark te maak werk. ‘n Deel van die fondse gaan ook om nuwe produsente te begelei om volhoubaar tot die bedryf toe te tree en om beurse beskikbaar te stel om die kapasiteit van jong wetenskaplikes aan te vul.
Laastens dra die Wintergraantrust ook by tot die teling van nuwe kultivars. Saadterughoudings vir eie gebruik van produsente (wat wettig is) noodsaak die bedryf om kultivarontwikkeling kollektief te bevorder en die trust staan in vir ‘n gedeelte van die telers se koste in dié verband. Die werksaamhede van die Wintergraantrust is uiters noodsaaklik en die vrye mark sal nie kan funksioneer sonder inligting nie. Die produktiwiteit en volhoubaarheid is afhanklik van navorsing en die transformasie van die bedryf is afhanklik van die projekte en opleiding van nuwe produsente.
Om die bedryf tot volhoubaarheid in die lang termyn te dien sal die trust voortgaan om die mandaat wat in die trustakte is uit te leef en te beskerm. In baie van die werk wat die trust befonds, is ons vennote met die staat en semi-staatsinstansies en dié vennootskappe is uiters belangrik tot almal se voordeel. Die trust is in gesprek met die minister en die departement om die vennootskappe uit te bou en enige misverstande uit die weg te ruim. Die Wintergraantrust is ook sensitief vir die doelwitte van die staat ten opsigte van veral transformasie en poog om binne die trust se vermoëns daarmee te help.
Publication: October 2012
Section: Other Articles