• Login
  • Search Icon

Is dit die moeite werd om inligting met ander te deel?

May 2014

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Baie produsente wil hul prestasies graag teen ander produsente meet en dan word dit sommer so met die oog oor die draad gedoen.

image

image “Buurman Willem het al weer ‘n nuwe bakkie en ek hoor hy het ook ‘n vloot nuwe trekkers gekoop. Hoe kry hy dit reg? Hier is ek weer besig met die bankbestuurder se kontantvloeivorms om vir nog ‘n produksielening aansoek te doen...O ja, amper vergeet ek, die Ontvanger moet ook weer betaal word...

“Baie produsente boer mos sodat hul nie nodig het om belasting te betaal nie, maar verskyn dan ’n tyd later in die geel bladsye. Ek wonder hoekom dit gebeur?

As jy oor dié sake wonder, is dit raadsaam om jou boerdery met ander boerderye te vergelyk. Só ‘n vergelyking sal beslis tot jou voordeel strek of jou die nodige gerusstelling gee dat jy op die regte pad is en dat jy die regte strategieë implementeer.

Deur net syfers met mekaar te deel sonder om dit te bespreek, sal net een kant van die storie vertel, daarom moet die inligting verkieslik in ‘n vergadering (soos ‘n studiegroep) met ander deelnemers bespreek word.

Met die ontleding van boerderye is dit belangrik dat dit volgens ‘n geordende ontledingsmetode gedoen word en dat alle deelnemers die waarheid sal weergee. Dit is ook belangrik om gesamentlik ‘n doelwit vir die vergelyking daar te stel en dat die resultate hierdie doelwitte moet bereik. Elke vertakking het ‘n stel kritieke suksesfaktore wat as norm gebruik kan word. Deur aandag aan hierdie faktore te skenk, kan die winsgewendheid van die besigheid dramaties verhoog word.

Die meerderheid boerderye implementeer ‘n sekere tipe boerderystelsel en dit is hierdie inligting wat grootliks die resultate sal verklaar. Om hierdie rede is dit belangrik dat verskillende verbouingstelsels behoorlik met mekaar vergelyk moet word. Net soos vir produksie, moet daar ook aandag aan bemarking en verskansing gegee word. Elke deelnemer se winste word bepaal op grond van hoe goed die prys en opbrengs was. Ongelukkig kan die verkeerde bemarking en verskansingstrategieë nie maklik uitgeproduseer word nie.

Produsente kan maklik hul bemarking- en verskansingstrategieë vergelyk, bespreek en aanpas.

As jy dalk deel van so ‘n vergelyking wil word, moet jy die nodige tyd inruim om hierdie inligting korrek en tot die beste van jou vermoë saam te stel. So ‘n vergelyking sal moet begin deur hulpbronne met mekaar te vergelyk. Die hoeveelheid en potensiaal van die lande asook die langtermynreënval is altyd belangrik. Selfs in ‘n landdrosdistrik verskil die reënval jaarliks aansienlik en dit kan klaar ‘n gedeelte van die syfers verklaar.

Hulpbronne

Die hulpbronsamestelling van elke plaas verskil. Dit is belangrik dat hierdie syfers bekend is. Dit kan ‘n groot klomp van die verskille verklaar, maar tog moet gewaak word daarteen dat dit nie altyd die maklikste weg uit is nie. Soms kan daar met die goeie hulpbronne ander foute ook aangetoon word.

Verskillende gewasse vereis verskillende insette en het elk ‘n groot impak op die winsgewendheid van die besigheid. Daarom is dit belangrik dat die gewasse wat verbou word met mekaar vergelyk word om sodoende die effek daarvan te bereken. As ‘n deelnemer net witmielies produseer, is dit redelik maklik om sy koste te kan toedeel, maar as ‘n deelnemer witmielies, geelmielies, sonneblom en grondbone verbou, is dit baie moeilik om koste toe te deel. Behalwe hiervoor, moet daar ook vergelyk word wat en hoeveel van wat geproduseer word.

Opbrengste

Dit is dan belangrik om die opbrengste asook die insette om die opbrengste te produseer, te ontleed. Dit kan gedoen word deur eers elke deelnemer se langtermynopbrengs te ontleed. Soms gebeur dit dat produsente hul insetaankope op langtermynopbrengste baseer wat gewoonlik vir die omgewing geld, maar dat die plaas se werklike langtermynopbrengste dramaties van hierdie langtermynopbrengste verskil.

Die gevolg hiervan is dat daar of oor- of onderbemes word. Hierdie regstelling sal vir seker die winsgewendheid van die vertakking verhoog. Die afgelope jaar se opbrengste moet ook met die langtermynopbrengste vergelyk word. Dit sal help om die vertakking se reënvaleffektiwiteit te meet. Deur te kyk na die kilogram graan geproduseer per millimeter reën geval (gedurende die produksiejaar), kan ‘n goeie aanduiding gekry word van die effektiewe gebruik van water.

Plantestand per hektaar is ook ‘n goeie vergelykingsnorm. Wat die onkruiddoder aanbetref, is dit belangrik dat elke deelnemer ‘n goeie idee gee van wat die onkruiddruk in sy lande is. Soms kan dit ook wees dat die verkeerde toediening van onkruiddoder tot laer doeltreffendheid aanleiding gee. Maak ook seker dat die hoeveelheid aktiewe bestanddele toegedien per hektaar vergelyk word. Dit gee ‘n meer volledige prentjie van wat met die onkruiddoder gebeur het.

Bemesting

Daar is gewoonlik ook groot verskille tussen die toediening van bemesting tussen boerderye. Hier is dit belangrik dat die verskillende bemestingsbenaderings bespreek word. Sommige produsente gebruik die vorige jaar se oes om die onttrekking van elemente te bereken en dit word dan toegedien, terwyl ander dalk die langtermynopbrengste gebruik om hul bemesting op te baseer. Maak nie saak watter norm gebruik word nie, almal moet net ingelig wees oor watter een gebruik word.

So kan die kilogram graan per kilogram makro-element ‘n norm wees om vergelykings mee te tref. Hierdie stap sal ook tot beter doeltreffendheid aanleiding gee. Die hoeveelheid kalk toegedien kan ook tussen produsente dramaties verskil. Hier kan die pH van die gronde ‘n aanduiding wees wat ook heelwat verskille kan verklaar.

Brandstof

Die brandstofgebruik per hektaar lok ook gewoonlik baie reaksie uit. Dit is belangrik dat elke produsent sy brandstofgebruik per aksie per jaar teen ‘n standaard soos in die Guide to machinery cost uiteengesit, meet en dat die verhouding dan tussen mekaar vergelyk word. Op dié manier word die effek van verskillende grondsoorte en trekkers bygelê.

Die afstand tussen plase wat ‘n produsent bewerk, die afstand van die naaste dorp asook of daar meer as een gesin in die boerdery betrokke is, kan ook help om verskille te verklaar.

Oorhoofse koste

Oorhoofse koste is gewoonlik ‘n gedeelte wat baie weggelaat of oor die hoof gesien word. Hier kan die groep besluit watter koste vergelyk kan word. Arbeidskoste, kapitaalbelegging per hektaar bewerk en waardevermindering is oorhoofse koste wat ook vergelyk moet word om ander koste beter te verklaar.

Daar is altyd ‘n verband tussen kapitaalbelegging in masjinerie, dieselgebruik asook herstelwerk en dié verband kan ook aan die hand van hierdie syfers beter verklaar word. Dit kan mos algemeen verwag word dat ou trekkers se herstelwerk hoër is as nuwe trekkers s’n en daar kan verwag word dat nuwer tegnologie ook beter brandstofgebruiksyfers moet toon. Nou kan met reg gevra word, is dit die waarheid?

Arbeidskoste

Arbeidkoste is ook ‘n tameletjie wat hanteer moet word. Kyk of ‘n standaardnorm gevind kan word om syfers mee te vergelyk. ‘n Goeie vergelykende syfer wat hieruit verkry kan word, is hoe doeltreffend arbeid op die plaas aangewend word. Die aantal hektare wat per arbeider op ‘n plaas hanteer word – dit kan moontlik ‘n verduideliking wees waarom ‘n produsent wat hoër lone per arbeider betaal ‘n laer arbeidskoste per hektaar weergee.

Ruilvoet

Dit is ook interessant om hierdie insette se beweging relatief tot die graanpryse te vergelyk. Die ruilvoet verander gedurig oor tyd en ‘n produsent kan niks aan hierdie saak doen nie. Tog sal hierdie inligting ‘n groep help om te bly fokus op die insette wat die grootste impak op winsgewendheid het. In Grafiek 3 word die verhou ding van kunsmis- en kalkkoste uitgelig.

image

In Grafiek 3 word die kunsmis en kalk teenoor die totale koste getoon. Aanvanklik maak die kunsmis en kalk ongeveer ‘n kwart van die totale lopende koste uit. Hierdie syfer skuif egter tot by baie na aan ‘n derde van die koste. Gebeur dit ook by jou of het jy ‘n manier om dit uit te presteer?

Daar is nêrens ‘n paradys sonder ‘n slang nie en hier is dit belangrik dat die inligting sensitief en vertroulik hanteer word. Wedersydse respek en vertroue moet tussen groeplede bestaan. Sekere besonderhede, soos bankbalanse en skuld, wil niemand graag aan die buurman openbaar nie en daarom word die verwerking gewoonlik deur ‘n nie-groeplid gedoen. Tydens die bespreking van die data kan die produsent self sy of haar nommer bekend maak.

Daar is verskeie instansies wat reeds hierdie vergelykings doen. As daar enige navrae is, kan Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.

image image

Publication: May 2014

Section: Other Articles

Search