2015
47
G
RAANGIDS
Besproeiing – hou dié stappe in gedagte
Vir suksesvolle besproeiing is daar sekere basiese dinge wat in plek moet wees en wat ‘n mens
moet weet voordat jy aan besproeiing kan begin dink:
1. Eerstens moet daar ‘n betroubare en volhoubare waterbron in die nabye omgewing wees. Vir
inligting oor riviere kan die Departement van Waterwese, wat oor volledige inligting oor die
land se water beskik, genader word.
2. Indien bogemelde in plek is, is die verdere voorwaarde dat daardie water geskik moet wees
vir besproeiing. Dit beteken daar moenie te veel soute of ander skadelike elemente in die
water teenwoordig wees nie. Dít kan in baie gevalle ‘n probleem met boorgatwater wees.
In damme en riviere kan daar selfs biologiese probleme met die water wees. Ten einde te
bepaal of die water wel geskik is, sal ‘n mens dit by ‘n waterontledingslaboratorium moet laat
toets.
3. Die derde vereiste is dat ‘n mens geskikte grond vir besproeiing moet hê. Wat hier belangrik
is, is dat dit verkieslik ‘n medium tot swaar tipe grond moet wees. Suiwer sand het baie min
waterhouvermoë en is nie geskik vir besproeiing nie. Dit is verder belangrik dat die grond
genoeg diepte moet hê en dat daar nie ‘n beperkende laag te naby aan die oppervlakte
moet wees nie. Die grond moet verder ook chemies geskik wees vir gewasverbouing, terwyl
daar ook verdere vereistes vir besproeiing is. Om hiervan seker te maak, is dit nodig dat ‘n
paar profielgate tot ‘n diepte van 1 m gegrawe moet word, grondmonsters op ‘n paar dieptes
in die gat geneem moet word en om dit deur ‘n grondontledingslaboratorium te laat toets.
Hierdie aksie kan ook met ‘n grondboor uitgevoer word, maar dit is nie heeltemal so effektief
soos om ‘n gat te grawe nie.
4. ‘n Verdere vereiste wat grond betref, is die topografie van die land. Lande wat té steil is, kan
in die eerste plek nie veilig met implemente bewerk word nie en dit skep ook drukprobleme as
dit by besproeiing kom, om nie eers van die erosiegevare te praat nie.
5. Hoewel klimaat nie so ‘n groot beperking op besproeiing plaas as op die gewasse wat
geplant kan word nie, is dit tog ‘n faktor wat in ag geneem moet word. Hier het dit veral ‘n
invloed op die tipe besproeiingstelsel wat gebruik sal kan word. Dit is byvoorbeeld nie ideaal
om ‘n sprinkelstelsel te gebruik waar daar konstante sterk winde of baie hoë temperature is
nie. Vir sulke plekke sal dit eerder wenslik wees om drupbesproeiing te gebruik.
6. Energiebeskikbaarheid is net so ‘n groot vereiste. Teen die hedendaagse hoë brandstofkoste
is dit nie ekonomies om enjins te gebruik om water te pomp nie en dit is noodsaaklik dat daar
elektrisiteit in die omgewing beskikbaar moet wees, hetsy deur Eskom verskaf of deur turbines
in ‘n rivier. In baie van die moderne besproeiingskemas is daar water onder druk vanuit hoër-
liggende damme beskikbaar, wat ideaal is.
7. Eers wanneer al bogemelde faktore in plek is, kan daar aan ‘n besproeiingstelsel gedink
word. Die belangrikste faktor wat bepaal watter tipe stelsel gebruik gaan word, is die tipe
gewas wat besproei gaan word. Hier sal die kundigheid van ‘n besproeiingsingenieur van on-
skatbare waarde wees. Wat ook hier baie belangrik is, is die beskikbaarheid van ‘n verskaffer
wat nie te ver geleë moet wees nie, veral as dit kom by die naverkoopdiens van die besproei-
ingstelsel wat aangeskaf gaan word.
8. Selfs belangriker as die tipe stelsel is die “tipe” installeerder van die stelsel. ‘n Mens kan al die
regte dinge in plek hê en alles van die beste hê, maar as die installering daarvan nie korrek
gedoen word nie, gaan jy ‘n stelsel hê wat jou in die toekoms oneindige probleme gaan gee.
9. Iets wat nie genoeg beklemtoon kan word nie, is dat die bestuur van die stelsel in alle opsigte
korrek gedoen moet word. Besproeiingstelsels is duur en indien jy nie die maksimum doeltref-
fendheid uit die stelsel gaan haal nie, gaan jy sukkel om dit afbetaal te kry.
10. Besproeiing het ‘n wetenskap geword en daarom moet ‘n mens gebruik maak van al die be-
sproeiings- en skeduleringshulpmiddels wat beskikbaar is. Outomatiese weerstasies is lankal
nie meer ‘n luukse nie, maar het ‘n noodsaaklikheid geword, aangesien die besproeiingsin-
ligting wat navorsers deesdae beskikbaar stel, op weerkundige data gebaseer word.
Skrywer: AS van Niekerk, Pr Ing, LNR-Instituut vir Landbou-Ingenieurswese