DIE
GRAAN- EN OLIESADEBEDRYF
VAN SUID-AFRIKA – ‘N REIS DEUR TYD
ႅႄ
Ten einde vir befondsing van die Oliesaderaad voorsiening te maak, is statutêre
heffings op sonneblomsaad en gedopte sowel as ongedopte grondbone ingestel.
Die eerste heffings was vasgestel op een sjieling per 100 lb (45,36 kg) gedopte
grondbone, agt pennies per 100 lb ongedopte grondbone en sewe pennies per
100 lb sonneblomsaad.
Funksies en magte
Die Oliesaderaad se roetinefunksies het die aankoop, voorbereiding, gradering, ver-
voer, uitvoer en verkoop van oliesade ingesluit, terwyl dit ook ’n inligtingsverskaf-
fingsfunksie ten opsigte van oliesade vervul het. Die behoefte aan ’n betroubare
inligtingsdiens het met verloop van tyd toegeneem weens groter internasionale
mededinging en gepaardgaande prysskommelings.
Die Oliesaderaad was gemagtig om met die Minister van Landbou se goedkeuring
’n verskeidenheid van magte en pligte uit te voer, wat die volgende ingesluit het:
• Die instelling van ’n verbod op die verkoop van oliesade aan iemand anders as
die Oliesaderaad;
• die vasstelling van oliesaadpryse, oplegging van heffings en skepping van
reserwefondse;
• die opstel van graderings- en verpakkingsregulasies; en
• die belegging van fondse en verkryging van vaste eiendom.
Die Oliesaderaad het, soos die ander beheerrade, agente aangestel om produkte
namens die Raad te ontvang, te gradeer, op te berg en te versend. Produsente se
vergoeding vir produkte wat hulle aan die Oliesaderaad gelewer het, is ook deur
middel van die agente aan hulle betaal. Die Oliesaderaad het sover dit moontlik
was die bestaande hanteerders van oliesade as sy agente aangestel, aangesien
hulle reeds oor kundigheid en fasiliteite beskik het.
Vanaf die einde van 1952 het die Oliesaderaad inspekteurs aangestel met die doel
om, onder andere, ouditinspeksies en ander ondersoeke by agente uit te voer, grade-
ringsgeskille te besleg, ondergraadprodukte te gradeer en te verkoop en inspeksies
uit te voer op grondbone wat vir die uitvoer- en eetmark bedoel was.
Vanaf 1968 het die Oliesaderaad ook die bemarking van sojabone, benewens
grondbone en sonneblom, beheer.
Die Raad se naam is later van tyd gewysig na die Oliesaderaad.
Die Oliesaderaad het ’n eenkanaalpoelstelsel vir oliesade bedryf. Die beheerde be-
marking van oliesade het bepaalde voordele vir die bedryf ingehou, insluitende
stabiliteit in die mark tot voordeel van sowel produsente as afnemers, verhoogde
produksie, uitvoer van grondbone van baie hoë gehalte en korrekte interpretasie
van markinligting.
Beheer opgehef
Die bemarkingskema ten opsigte van grondbone is egter weens veranderde om-
standighede in die Suid-Afrikaanse politieke bestel en internasionale handel op
22 April 1994 sodanig gewysig dat grondbone vryelik deur produsente verhandel
kon word en toegelaat is dat ’n surplusverwyderingstelsel met vrywillige poele en
’n eenkanaaluitvoerstelsel bedryf kon word. Ingevolge die eenkanaaluitvoerstelsel
het die Oliesaderaad instansies wat oor voorrade beskik en toegang tot selekteer-
aanlegte gehad het, vrystelling verleen om, onderhewig aan die betaling van die
voorgeskrewe heffings, grondbone uit te voer.
Hierdie wysigings het meegebring dat slegs 30% van die grondbone-oes in 1994
aan die Oliesaderaad verkoop is. Grondbone wat wel aan dié Raad se vrywillige
poele gelewer is, is geselekteer en sowel binnelands as in die buiteland verhandel.
Sedert Julie 1995 het die Oliesaderaad se rol as uitvoerder van grondbone in
effek verval. Die Raad is egter deur die Minister van Landbou aangestel om ge-
haltebeheer toe te pas op alle grondbone wat vir uitvoer bestem was, ten einde
Suid-Afrika se aansien ten opsigte van kwaliteitstandaarde te probeer behou. Die
Oliesaderaad het ’n belangrike rol gespeel in die verskaffing en koördinering van