DIE
GRAAN- EN OLIESADEBEDRYF
VAN SUID-AFRIKA – ‘N REIS DEUR TYD
ႄႆ
1935 – Wet op die Beheer oor die Koringnywerheid
Koringprodusente het gevolglik volgehou met druk vir groter Staatsondersteuning
aan die koringbedryf. Hulle pogings is beloon met die skepping in 1935 van die
Raad van Beheer oor die Koringnywerheid, wat in terme van die Wet op die Beheer
oor die Koringnywerheid (Wet 58 van 1935) daargestel is met die oog op aktiewe
beheer oor die invoer van koring en koringmeel, ter beskerming van die plaaslike
koringprodusente se belange.
Die ontstaan van die laasgenoemde wet was, volgens die Koringraad se 50-jarige
gedenkboek, bevorder deur ’n buitengewone goeie oes in die Swartland en Rûens
in ’n tyd waarin die bemarkingsmeganismes nie gerat was om ’n groot surplus te
hanteer en aan produsente ’n billike prys vir hulle produkte te verseker nie. Ten
spyte van ’n voorskot op die prys van koring wat die Land Bank aan koöperasies
betaal het, het dit nie die hele bedryf baie gehelp nie, aangesien die vele produsen-
te wat nog nie lede van die koöperasies was nie, nie kon deel in die voorskot wat
betaal is nie.
Die Raad van Beheer oor die Koringnywerheid wat ingevolge die 1935-wet tot stand
gekom het, het vanuit die staanspoor met die surplusprobleem geworstel en die
invoer van koring en meel is sterk bevraagteken. Die vestiging van ’n eenkanaal-
bemarkingstelsel is deur verteenwoordigers van koringprodusente as ’n oplossing
vir dié probleem aangevoer.
Die Raad het egter ander maatreëls ingestel met die oog daarop om die aanbod van
koring in die mark te beperk, wat die opberging van koring teen vergoeding ingesluit
het. Die maatreëls was nie baie suksesvol nie en het daartoe gelei dat die Raad besluit
het om die Regering te versoek om “’n beleid van verkoop deur een kanaal” vir koring
op ’n proefbasis van twee jaar te oorweeg. Hoewel die versoek nie toegestaan is nie,
het die Regering ingestem om die voorskotprys aan te pas en sekere hulp ten opsigte
van die opberging van koring te verleen. Dit was egter duidelik dat hierdie Raad, wat
as die eerste “Koringraad” beskou kan word, se magte nie toereikend genoeg was om
die ordelike bemarking van koring te verseker nie.
Bemarkingswet 1937 – Koringreëlingskema
In aanloop tot die afkondiging van die Bemarkingswet van 1937, het die Raad van
Beheer oor die Koringnywerheid reeds begin met die ontwikkeling van ’n skema in
terme van daardie Wet waarvolgens daardie Raad die enigste koper en verkoper
van koring sou wees, koringpryse sou vasstel en ander stappe kon neem om die
koringbedryf te beheer. Op 5 Oktober 1938 is die Koringreëlingskema, wat in die
proses ontwikkel is, ingevolge die Bemarkingswet afgekondig. Daardeur is eenka-
naalbemarking vir koring en ander wintergraanprodukte ingestel.
Droëlandkoring in die Vrystaat.
Die Wet op die Beheer oor die Koringny-
werheid (Wet 58 van 1935).
Klankgreep: Prysvasstelling in die Koringbe-
markingsraad was ’n ernstige saak...maar soms
was daar ligte oomblikke ook – mnr Jannie de
Villiers.