DIE
GRAAN- EN OLIESADEBEDRYF
VAN SUID-AFRIKA – ‘N REIS DEUR TYD
ႃႆ
daardie tyd geniet het en wat ’n uiters belangrike hulpmiddel vir baie produsente
was, te heroorweeg. Die afvaardiging het onverrigter sake teruggekeer en die
volgende dag by ’n massavergadering in die Markotter Stadion te Klerksdorp
aldus aan die mielieprodusente gerapporteer.
Intussen het die ontevredenheid oor die mielieprys en die Minister van Landbou
se volgehoue weiering om die prys aan te pas daartoe gelei dat baie produsente
besluit het om nie enige mielies te lewer nie. In sommige gevalle het voorstanders
van die aksie selfs fisies probeer verhoed dat produsente wat nie ten gunste van
die aksie was nie, wel hulle mielies by die koöperasies se silo’s kon inlewer. Toe-
gang tot siloterreine is versper deur lang rye waens met mielies wat by die ingang
geparkeer is, maar nie afgelaai is nie.
Die nie-leweringsaksie is aanvanklik goed ondersteun, maar dit was nie volhoubaar
nie. Die Staatspresident se dreigement oor die moontlike heroorweging van die sub-
sidie op rentekoerse het moontlik ook ’n rol gespeel in die produsente se besluit om
die staking te beëindig. Op daardie stadium het Suid-Afrika ’n geweldige styging in
rentekoerse beleef en ’n afskaffing of afskaling van die rentekoerssubsidie sou baie
produsente finansieel kon knak.
Dit blyk ook dat die Staatspresident op ’n stadium gedreig het om die hulp van
die Weermag in te roep ten einde seker te maak dat die oes wel ingesamel en
ingelewer word.
Die bedanking van die NAMPO-lede uit die Mielieraad in 1985 het ’n groot probleem vir
die Minister van Landbou geskep, aangesien die oorblywende lede van die Mielieraad
nie meer ’n kworum gevorm het nie. Die Minister was verplig om die probleem aan
te speek, omdat die Bemarkingswet vereis het dat daar ’n funksionerende Mielieraad
moes wees. Die dilemma was dat die produsentelede op die Mielieraad vanaf 1980
deur NAMPO aangewys moes word, maar NAMPO het uitgestap.
Die Minister het toe in sy diskresie produsentelede vir die Raad aangestel,
waarvan sommige wel NAMPO-lede was, maar hulle is nie deur NAMPO geno-
mineer nie. Die persone wat lede van NAMPO was, is na hulle aanstelling deur
die Minister op die Mielieraad uit NAMPO geskors, omdat hulle die organisasie
se grondwet oortree het, aangesien slegs hoofbestuurslede van NAMPO op die
Mielieraad kon dien. Die Mielieraad het egter voortgegaan om op hierdie basis
te funksioneer, totdat gesprekke tussen die Minister van Landbou (mnr Greyling
Wentzel) en NAMPO daartoe gelei het dat die Minister in 1987 ingestem het om
weer NAMPO-lede as die produsentelede op die Raad aan te stel.
Vanaf die 1981/1982- tot en met die 1986/1987-bemarkingsjare is stelselmatig
oorgeskakel van produksiekoste as basis vir bepaling van die produsenteprys vir
mielies, na ’n stelsel waar die prys ná onderhandelings met die Mielieraad, waarvan
die meerderheid produsenteverteenwoordigers en NAMPO-lede was, deur die
Minister vasgestel is.
TOE DIE AFVAARDIGING NA
DIE STAATSPRESIDENT OP ’N STADIUM
AANVAAR HET DAT DIE GESPREK VERBY WAS,
HET MNR DE JAGER OPGESTAAN. MNR BOTHA
HET HOM GEVRA WAARHEEN HY GAAN
EN HY SÊ TOE HY WIL TOILET TOE GAAN,
WAAROP MNR BOTHA BEVEEL HET:
“SIT, EK SAL SÊ WANNEER JY KAN GAAN.”