ႃႅ
HOOFSTUK 2
Die agtergrond daarvan was dat die Minister van Landbou, mnr Greyling Wentzel,
in 1984 ’n ooreenkoms met die Voorsitter van die Mielieraad, mnr Crawford von
Abo, aangegaan het waarin die Minister onderneem het dat hy die mielieprys wat
die Mielieraad voorstel, sal aanvaar indien daardie prys eenparig deur die Mielie-
raad se lede, insluitende die verbruikers, aanvaar is. Dit het toe inderdaad so gebeur
en die Minister van Landbou was verplig om die voorgestelde prys te aanvaar en af
te kondig, ten spyte daarvan dat dit aansienlik hoër as die vorige jaar se prys was
(R100/ton meer) en hy nie werklik daarmee saamgestem het nie.
Dit het egter tot groot ontevredenheid by, onder andere, die Staatspresident gelei
en die besef het ontstaan dat die voortdurende spanning tussen die produsente
en die Minister oor die mielieprys uiters onbevredigend was en op hoogste vlak
aangespreek moes word. Die Mielieraad het besluit om met die Regering te onder-
handel vir die aanstelling van ’n ministeriële komitee wat strukturele oplossings vir
die probleem met die vasstelling van ’n aanvaarbare mielieprys kon ondersoek. Dit
was veral belangrik gesien in die lig van mielies se rol as die stapelvoedsel van ’n
groot deel van Suid-Afrika se bevolking.
Die versoek is van regeringskant goed ontvang, wat saamgestem het dat so ’n
komitee saamgestel sou word. Die gesprekke daaroor het in September 1984
plaasgevind, maar teen Maart 1985 het die komitee, volgens von Abo, nog niks
gedoen nie. Toe die mielieprys in April 1985 afgekondig word, was dit in effek op
dieselfde vlak as dié van die vorige jaar ten spyte van die voorlegging wat die Mie-
lieraad op grond van berekenings deur die Departement van Landbou gemaak het.
Die produsentelede van die Mielieraad het geweier om die afgekondigde prys te
aanvaar (die produsentelede het dit met twaalf stemme teen een verwerp) en op
25 April 1985 het agt van hulle uit die Raad bedank.
Die Minister van Landbou is na aanleiding van die onhoudbare situasie versoek om
’n afspraak vir ’n afvaardiging van die mielie-produsente met mnr PW Botha, die
Staatspresident, te reël. Die Minister het toegestem om dit te probeer reël, maar
gewaarsku dat die produsente se verteenwoordigers “in die leeu se bek inloop”. Hy
het egter daarin geslaag om die vergadering te reël, waar mnre Hennie de Jager en
Boetie Viljoen van NAMPO saam met mnr Kobus Jooste van die Suid-Afrikaanse
Landbou-unie die produsente verteenwoordig het.
Die vergadering, wat in Tuynhuys in Kaapstad gehou is, was ook bygewoon deur
mnre Greyling Wentzel, Barend du Plessis (Minister van Finansies) en die Staats-
president se persoonlike sekretaris. Die Staatspresident het hom nie veel aan die
afvaardiging se voorstelle gesteur nie. Hy het hulle daarop gewys dat die prys van
mielies in die vorige jaar aansienlik meer as die pryse van ander landbouprodukte
gestyg het. Teenargumente het op dowe ore geval.
Toe dit blyk dat die gesprek oor die mielieprys nie op iets sou uitloop nie, het mnr
Jooste die geleentheid gebruik om met die Staatspresident te praat oor ’n lening
van R100 miljoen wat vir SALU bedoel was. Mnr Botha was toe al so vererg dat hy
gesê het dat hy na die voorafgaande gesprek lus voel om die lening te kanselleer.
Tydens die gesprek het hy ook gedreig om die rentesubsidie wat produsente in
OP DIE STADIUM TOE
MINISTER GREYLING
WENTZEL DIE MIELIEPRYS
WOU AFKONDIG, HET DIE
VOORSITTER EN ANDER
SENIOR AMPSBEKLEËRS VAN
DIE MIELIERAAD HULLE OP
’N SENDING IN THAILAND
BEVIND. TOE HULLE
VERNEEM DAT DIE MINISTER
BEOOG OM DIE MIELIEPRYS
BEKEND TE MAAK, HET HULLE
INDERHAAS TERUGGEKEER
NA SUID-AFRIKA OM
BY DIE VERGADERING
TEENWOORDIG TE WEES,
WAAR DIE GEBEURE SOOS
HIERNAAS BESKRYF,
PLAASGEVIND HET.
DIE PERSONE WAT BY DIE
VERGADERING AS LEDE
VAN DIE MIELIERAAD
BEDANK HET, WAS MENERE
CRAWFORD VON ABO, BOETIE
VILJOEN, HENNIE DELPORT,
GERRIT GREEN, CERNEELS
CLAASSEN, CORNELIS
LEONARD, MOF VISSER EN
WILLIE VAN DER RYST.
Mnr Boetie Viljoen
Mnr Hennie de Jager
Klankgreep: Mnr Boetie Viljoen vertel van die
vergadering in Tuynhuys met die destydse
Staatspresident, mnr PW Botha.